Kiddi Beat SP is deur Dr. Petro Grové en Dr. Sanet Schoeman ontwikkel in 2005. Hulle het in 2012 eienaarskap toegestaan aan Mignon van Vreden en Grethe Uren wat verder nuwe programme ontwikkel. Kiddi Beat SP staan nou amptelik bekend as Kiddi Beat Musiekspesialiste.
Petro Grové en Sanet Schoeman
Beide Sanet Schoeman en Petro Grové het doktorsgrade in Musiekopvoeding aan die Universiteit van Pretoria verwerf. Hulle onderrigervaring dek die hele spektrum van opvoedkunde, naamlik pre-primêre-, primêre- sekondêre en tersiêre vlakke. Hulle het gereelde bydraes gelewer ten opsigte van die aanbieding van kursusse en werkswinkels, sowel as nasionale en internasionale werkswinkels en seminare. Hulle is ook beide spesialiste in hul veld met verskeie publikasies op hul kerfstok. |
Mignon van Vreden en Grethe Uren
Mignon van Vreden is getroud met Hansie en woon in Potchefstroom, waar sy ʼn lektor in Musiekopvoeding aan die Noordwes-Universiteit is. Sy voltooi haar Musiekstudies aan die Universiteit van Stellenbosch met ʼn MMus cum laude en ontvang ʼn PhD in Musiek van die Noordwes-Universiteit in 2014. Musiek en kinders is haar passies en sy leef dit uit deur haar betrokkenheid by skole en kleuterskole in die omgewing as opvoeder en begeleidster. Haar vier seuntjies is die inspirasie agter nuwe kinderliedjies uit haar pen wat gereeld in verskeie publikasies gepubliseer word. Grethe Uren het B.A. Musiek en Wiskunde aan die Noordwes Universiteit in Potchefstroom studeer met klavier as hoofinstrument en sang en dwarsfluit addisioneel. In 2009 ontvang sy haar Meestersgraad in Opvoedkunde Cum Laudé. Sy is die eienaar van Kiddi Beat MS Potchefstroom en leef graag haar passie vir musiek en kleuters op hierdie manier uit. Sy glo musiek is ‘n kragtige medium om die ontwikkeling van die jong kind te bevorder en is ook besig met navorsing op hierdie gebied asook die skryf en ontwikkeling van nuwe programme vir Kiddi Beat Musiekspesialiste. Sy is getroud met Kenny en ‘n ma van 2 kiddies. |